Lees Jeremia 36:1-10.
As Juda hoor … sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer (v 3).
Jeremia word geroep om die Here se woorde neer te skryf, en dit is nie goeie woorde nie. Inteendeel. Hier word met “rampe” (meervoud! – v 3) gedreig, vertel van die Here se “gloeiende toorn” (v 7), wat alles die gevolge is van die volk se “verkeerde dade” (v 3), sy “verkeerde pad” (v 7).
Ewenwel. Jeremia kommandeer ene Baruk op om sekretaris te speel. Meer: “Jy moet dit vir hulle lees” (v 6), sê Jeremia aan Baruk, want sy persoonlike omstandighede laat hom nie toe om dit self te gaan doen nie. En só word die toneel opgestel wat uiteindelik daarop uitloop dat Baruk op ’n vasdag wat spesiaal hiervoor uitgeroep is, uit hierdie boek sou voorlees. Die hele volk sou hom aanhoor en die boodskap aan die koning oordra.
Wat sou hulle dan doen? Sou hulle hom hoor, werklik hóór? Verby die dienskneg se stem luister en God se woorde hoor? Sou hulle hulle hierna bekeer en hulle die vergifnis toe-eien wat hulle belowe is? Sal hul koning die voorbeeld van verootmoediging stel en, wie weet, dalk van sy troon afklim, sy koningsklere uittrek en rouklere aantrek en op ’n ashoop gaan sit, soos Nineve se koning in die Jonaverhaal?
Wie weet hoe konings en hul mense op Goddelike beskuldigings reageer? Wie weet of hulle die aanbod vir omvattende vergifnis ernstig opneem? Of elkeen nie bloot sy reputasie wil beskerm en dus die beskuldigings minag nie?
Want die mens het klaarblyklik ’n geneigdheid om grootmeneer te speel wanneer hy eintlik moet ineenkrimp. Om te smaal wanneer hy moet huil. Om vuis te wys vir Godgestuurdes met wie hy nie saamstem nie.
Hoe lank nog, Here, sal U ons bravade verduur?
Barend Vos