Lees Johannes 1:43-51.
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “… het Ek jou al gesien” (v 48).
Dit bly ’n verbysterende ontdekking dat ons so sigbaar vir die Here is. Hoe suksesvol jy ook al daarin slaag om vir vyande (en vriende!) weg te kruip; vir die Here is jy so duidelik soos, nou ja, daglig.
Reeds die digter van Psalm 139 het sy verstomming hieroor uitgespreek: “Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek … maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie …” (v 11-12).
Die ironie hiervan is dat ons Hom so graag wil sigbaar maak. Ons sê, soos Filippus vir Natanael: “Kom kyk” (v 46). In ons oormoedigheid reken ons dat ons Hom in elke donker hoekie raaksien, om elke hoek en draai Hom kan uithaal en wys. Vir mense kan sê: Ek weet hoe Hy lyk, ek ken Hom en sy wil.
Ons doen ons voor as gidse van God. Ons beduie met vrymoedige vingers na Hom, die groot Besienswaardigheid. Dan roep ons ekstaties uit: Dáár is Hy! Só is Hy!
Intussen weet Hy alles van ons af. Sien Hy dwarsdeur ons. Kyk Hy tot in ons hovaardige hart en sien ons egoïsme raak, ons matelose selfliefde.
Maar, goddank, Hy kyk selfs dieper. Hy sien ook ons verlatenheid en verlange raak. Ons onsekerhede, al ons twyfel. Dan kom haal Hy ons uit ons skuilplek uit. Verwyder Hy die bravademasker van ons gesig. Sê Hy, soos vir Natanael: Ek gaan jou nog groot dinge wys (v 50-51).
Sy manier van kyk is enig: Daar is nie nóg so ’n ontfermende blik nie. En dít is mos uiteindelik wat so sigbaar vir sy wegkruiperkinders is: sy oë, en die sagtheid daarvan.
Kyk asseblief goed na my, Here! Ek is swak en blind.
Barend Vos