Lees Psalm 56.
U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken (v 9).
Hy is bang, hierdie digter. Die opskrif verklap dit reeds: Dawid skryf dié gedig nadat die Filistyne hom in die hande gekry het. “Daar is mense wat my jaag,” hyg hy, “vyande wat my vervolg van die môre tot die aand” (v 2).
Hy weet hy is voortdurend in hul visier, hulle het sy spoor gevat en nou bly hulle op sy hakke. Dit is ’n nagmerrie. Wie gaan hom hieruit wakker maak? Wanneer gaan dit ophou?
Nie sommer nie. Hy, die agtervolgde, loop eers die hele paadjie wat die Here se kinders so goed ken wanneer hulle in groot gevaar verkeer: naakte vrees; die beskuldigings en later vervloeking van die agtervolgers; ’n aanklag teen die vyand; die desperate verklaring dat God aan óns kant is; uiteindelik die uitskreeu van ou beloftes en nuwe voornemens wanneer Hy redding bring.
En tussendeur, almaardeur, die troos van God se goedheid. Die rus in die wete dat Hy sy kind se trane sien. “My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie” (v 9). U weet, U sien. U sal ’n plan maak.
Dat God se genade vir sy kinders genoeg is, juis in hul donkerste uur, was nog altyd die grondigste troos denkbaar. Dit is nie ’n kitsoplossing nie en sal ook nooit ’n opportunistiese ontvlugting wees nie. Maar dit is die een vaste punt in ’n chaotiese omgewing: Ek is nie aan myself oorgelaat nie. Ek, en al my bagasie, behoort aan Hom.
Die ou kerkvaders het trouens gesê hierdie versekering is veel meer as die Godskinders se grootste troos; dit is niks minder nie as hul enigste troos. Hy is al wat ons het.
U is genoeg vir my, Here. Daar is niks en niemand soos U nie.
Barend Vos