Lees Numeri 20:22-29.
“Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek” (v 26).
Die ou Eksodustrekkers was nooit die Here se beste volgelinge nie. Daarvoor het hulle te veel gekla. Die berigte oor hulle wemel van ontevredenheid, dwarstrekkery, woede teen die leiers, weerstand teen God.
Midde-in al hierdie struwelings het die twee broers gestaan: Moses, die trekleier, en Aäron, sy woordvoerder en later ook die geestelike leier. Dit is hulle wat soms noodplanne moes maak (Moses en die water uit die rots in Eks 17), wat verkeerde besluite geneem het (Aäron en die goue kalf in Eks 32). Wat by geleentheid mekaar selfs aangevat het (in die aangrypende Num 12).
Maar uiteindelik was dit hulle twee wat die Egiptiese farao saam gekonfronteer en uiteindelik oorwin het. Die Here het Hom aan hulle verbind toe Hy hierdie enorme sending aan hulle toevertrou het. Vir Moses sê Hy: “Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen” (Eks 4:15).
Nou, oplaas, het die tyd vir skeiding aangebreek. En Moses, van almal, moes dit voltrek. Die Here se opdragte aan hom is spesifiek – tyd, plek, seremonie. Aäron se opvolger sal sy eie seun wees “… en Aäron is daar op die top van die berg dood” (v 28).
Sommer so. Geen lang afskeid nie, geen berig van trane nie. O, die volk het darem oor hom gerou (v 29). Dertig dae lank, nogal.
Maar, blyk dit ook hier, leiers is dienaars. Hulle het baie navolgers, dikwels neulend en nukkerig, maar net een Baas. Hy beslis oor hul kom en gaan. Hulle het ten ene male hul lewe en opdrag aan Hom te danke. Net aan Hom.
Here, U gaan voor, ons volg in u spoor.
Barend Vos