Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Só werk dit

Lees Numeri 27:12-23.

“Maar hy moet altyd die priester Eleasar raadpleeg dat dié vir hom … die beslissing van die Here vra” (v 21).

Toe was dit Moses se beurt. Hy moes Josua seun van Nun die hande oplê en hom in sy plek as trekleier aanwys. Moses sou die beloofde land slegs sien; Josua sou sy mense daar inlei.

Só eindig die ou orde. Nou is daar ’n nuwe priester en ’n nuwe trekleier. En deurentyd klink dié refrein op: Voordat Josua en Eleasar optree, moet daar eers na die Here se wil gevra word.

Bekend, nè? Vra na die Here … Soek allereers die koninkryk van God …

Hopelik sou hulle, die twee nuwelinge, in hierdie opsig beter vaar as hul veelgeroemde voorgangers. Hopelik sal hulle hulle nie teen die Here se bevele verset nie, sal hulle Hom nie voor almal teëgaan nie (v 14).

Want dit is mos die ou, ou probleem met leiers: Hulle ken later nie meer die einde van hul krag nie. Hulle raak so reddeloos verlief op hulleself dat hulle vergeet waar hulle vandaan kom én, belangrik, hoe hulle gekom het tot waar hulle nou is. Wie hulle tot daar gebring het. In wie se krag hulle is wie hulle is.

Daarom sal dit leiers van alle tye en plekke baat om die Here, die Leier van die leiers, se werkwyse in dié verhaal goed te bekyk: Hy rus die nuwe leier behoorlik toe, en dan beskik Hy ’n raadgewer vir hom, iemand wat goed kan hoor wat die Here sê (v 20-21). Eers dán mag die nuwelinge diens aanvaar. Eers wanneer hulle weet hoe die Here werk, mag hulle begin werk. Dit is soos dit in sy koninkryk werk.

Here, u is die Hoof van u huis. Ons is u kinders. Ons luister as U praat.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.