Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Verbeel jou: afgode!

Lees Psalm 115.

Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word (v 8).

Die Bybelse psalms verras ons dikwels. Ook vir ons wat reken dat ons hierdie geliefde leesgoed ken. Hoor dan nou hier: ’n uitgebreide gespot met afgode.

Dit herinner ons nogal aan Elia se woorde aan die desperate Baälaanbidders wat geen reaksie van hul god gekry het nie: “Roep harder! Hy is mos ’n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” (1 Kon 18:27).

In hierdie psalm word daar, soos dit feitlik deurgaans die gebruik in hierdie liedere is, oor die Here se goedheid gesing. Aan sy Naam kom alle eer toe. Sy liefde en trou is vir sy kinders tot oneindige seën.

Aan die ander kant van die godespektrum is daar die afgode. Dié met al die uiterlike trekke van bruikbaarheid, maar wat in hul stomme nutteloosheid eintlik ’n enorme verleentheid vir hul aanhangers is. ’n Oog wat nie sien en ’n oor wat nie hoor en ’n neus wat nie kan ruik nie. Dom handjies, lam voetjies. Net bek, g’n binnegoed.

Ja, ’n spotprenttekenaar se droom, ’n eindelose bron van satire. As die hele spul net nie so tragies was nie. Want, so sê die psalmdigter en dit weet ook ons maar te goed, afgode is mensgemaak. Selfvervaardig. Hulle is produkte van die verbeelding.

Hoe verdorwe is sulke mense nie, hoe verrot hul gees! Gelukkig is daar geen Godskinders wat so laf is om voor selfgeprakseerde gode te buig nie. Of hoe?

Nee, geen gelowige aanbid sy eie handewerk nie. Of die opdroomsel van sy persoonlike begeertes nie. Of sy geliefde spieëlbeeld nie. Of hoe?

Here, Here, red my van myself. Verlos my van my selfliefde!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.