Lees 1 Samuel 9:15–10:1.
“Ek is maar net ’n Benjaminiet … die swakste stam … Boonop is my familie die kleinste” (v 21).
Die mooi ou verhaal van Saul en die weggeraakte donkies is ook die verhaal van Saul se ontmoeting met die priester Samuel. En uiteindelik (nee, eintlik uit die staanspoor) die groot storie van Saul en die Here.
Saul het van laasgenoemde motief in sy verhaal niks geweet nie; Samuel het ook maar later daarvan verneem.
Maar die Here weet alles, van altyd af. Hy ken ook vir Saul, Hy het lankal sy oog op hom. As Israel dan ’n koning moet kry, laat dit dan hierdie seun uit die stam Benjamin wees …
Hoe dan nou? roep Saul uit. Ons is die kleinste familie in hierdie stam. Buitendien is die Benjaminiete maar ’n swak spulletjie. Nee, as jy mooi dinge wil sê, siener Samuel, sê dit oor die Judastam, of oor een van die ander vernames. Dié met die naam, die status.
Maar Samuel het lankal by sy Here geleer dat Hy anders kyk as wat mense kyk. Die mooi ritueel wat volg, die ete en toe die salwing, bevestig dit.
Ja-nee, die Here se gedagtes is gelukkig nie ons gedagtes nie. Ons dink verspot klein oor die lewe, ons visie is so bitter beperk. Ons hele menswees is ingestel op ons eie behoeftes en begeertes, ons persoonlike plannetjies, ons plaaslikheid.
Daarom betrap die Here se idees, ook dié vir ons lewe, ons altyd onkant. Daarom moet Hy altyd eers ’n klomp oortuigingswerk doen voordat ons gereed is vir sy eintlike opdrag. Só mors ons tyd. Verspeel ons gulde geleenthede.
Hoe sukkel ons tog om onsself te sien soos die Here ons sien!
Praat met my, Here. Oortuig my van my waarde voor u aangesig.
Barend Vos