Lees Lukas 5:27-32.
Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My” (v 27).
Dié keuse van Jesus sou Hom aanhoudend teister, dié ten gunste van ’n tollenaar. Hierdie gehate belastinggaarders is minagtend deur die destydse kerkmense aangekyk. Soos ook hier in vers 30: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”
Dan is daar die beroemde Lukas 15, die hoofstuk met die drie “verlore”-gelykenisse. Maar wie kan onthou wat aanleiding gegee het tot Jesus se stories oor die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun? Niks anders nie as dié veelseggende berig: “Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: ‘Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle’ ” (Luk 15:1-2).
Nou, sommer aan die begin van die Jesusverhaal, kom ons agter die kap van die byl: Jesus kies ’n tollenaar vir sy dissipelkring. En dié man los alles en hou ’n groot feesmaal ter ere van Jesus.
Daar is darem niks so sielsverheffend soos die uitbundigheid van ’n mens wat uit ’n doodloopstraat verlos word nie!
Ook is daar niks so terneerdrukkend soos die hardnekkigheid van hulle wat verbete aan hul vooroordele vasklou nie. Mense wat so seker is van hul status in kerk en samelewing dat hulle nooit oplet dat die Goddelike maatstawwe anders lyk as hulle en hul triomfantelike geesgenote s’n nie.
Hulle ken nie iets soos ’n partytjie wat tot Jesus se eer gehou word nie. Hulle het nog nooit gehoor wanneer Hy roep “volg My!” nie. Hulle is heeltemal té tevrede met hul eie koers om hulle tog oor Goddelike roetes moeg te maak.
Here, mag ek ook u feesmaal bywoon? Dalk by u tafel aansit?
Barend Vos