Lees Jeremia 13:12-19.
Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring, Hy sal dit stikdonker laat word (v 16).
Die ou volk sou nooit kon sê hulle is nie gewaarsku nie.
In hierdie klompie Jeremiaverse word daar in die hardste moontlike stem (Stem!) met hulle gepraat. Word hulle vermaan, nóg ’n kans gegee. Sal dit die laaste een wees?
Sal hulle dié keer hoor? Is “Ek sal niemand spaar of verskoon nie, sonder ontferming sal Ek hulle uitroei” (v 14) luid genoeg? Selfs vir die horende dowes? Die ore-toedrukkers? Hoor die troonsitters dat hulle van hul krone ontneem gaan word? (v 18). Weet die priesters en profete van die skande wat op hulle wag? (v 13). En die pa’s en hul seuns van die komende tragedie? (v 14).
Is hierdie waarskuwings ernstig genoeg? Wat is dan nóg nodig voordat die Here se kinders besin?
Hulle hoor nie. En wie nie hoor nie, sal ook nie sien nie. Die donker sal hulle verswelg. Elke dag word ’n nagmerrie. Uit dié duisternis is daar geen ontsnapkans nie. Niemand sal kan sê nie: Dit sal ook verbygaan. Dit sal nie.
Al wat oorbly, is trane. Maar dan nie hulle s’n nie – hoogmoed huil nie oor homself nie. Nee, die trane wat hier gestort word, is dié van ’n heilige hartseer. Dit is die Herder wat ween oor sy kudde. Wat sien hoe hulle deur hul eie toedoen oorval word, gesteel word, weggevoer word.
Sal daar ooit weer vir hulle lig kom? Wie sal die duisternis verdryf?
Hy sal. Hy self. Niemand anders nie. Wanneer hulle tot hul sinne geruk is, sal hulle dit besef. Dan sal hulle roep, soos kinders, bevrees in die donker. Hulle sal hul hande uitsteek, rondtas, uiteindelik gereed om gelei te word.
Lei U ons, Heer, deur hierdie duisternis.
Barend Vos