Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Waarom?

Lees Jeremia 13:20-27.

Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?” (v 22).

Waarom? Waarom ék? Wat het ek dan gedoen wat so verkeerd is?

Stokou vrae. Die heersers in Jerusalem het dit al gevra. En, soos dit maar met sulke vrae gaan, vra hulle dit toe dit te laat is. Toe die werklikheid hulle reeds getref het. Toe die nag wat hulle beloof is, reeds op hulle toegesak het. Toe dit te laat was om hul gedrag te verander.

Buitendien, sê die Here deur sy profeet aan hulle, julle sal nie verander nie, want julle kán nie. Julle is gans te gewoond aan wat julle doen. Julle het noodlottig verslaaf geraak aan jul misdade.

Daarom wag daar nou ’n onbeskryflike vernedering op jou, Jerusalem! Nie net sal jou ondergeskiktes, hulle wat jy as minderes beskou, oor jou heers nie; jy sal ook, voor almal, kaal uitgetrek word. Dat jy in al jou naaktheid voor die mense vertoon kan word. Dat hulle almal oor jou skaamte kan lag.

En tog, en tóg …

Reg aan die einde van hierdie hoofstuk word hulle ’n ontsnapkans gebied. Kom die Here se kreet: “Hoe lank gaan dit nog so bly?” (v 27). En word die deur uit hierdie donkerte op ’n skrefie oopgemaak. Die Here kyk verlangend na hulle.

Sal hulle Hom sien? Sal hulle die kans aangryp? Of het hulle lankal afgeleer om Hom te hoor wanneer Hy laaste kanse aanbied? Om Hom raak te sien as Hy hulle wys hoe hulle kan uitkom uit die web wat hulle self gespin het en waarin hulle nou vasgevang sit?

Here, ek is só skaam dat ek U nie in die oë kan kyk nie. As U wil, kan U my aan die hand neem en my uit hierdie moeras lei. As U wil.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.