Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hartsake

Lees Jeremia 17:5-10.

Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? (v 9).

Wat ’n merkwaardige klompie Jeremiaverse. Boonop ent-ent woordeliks dieselfde as dié in Psalm 1. Iemand het deeglik gelees en goed verstaan …

In die “ongeneeslike hart”-uitspraak word die spyker boonop op die kop geslaan: Die mens se misdade word regstreeks met sy hart verbind. Geen “vreemde invloede”, “omstandighede buite my beheer”, “houvas van die bose” hier nie. Die oorsaak van ongehoorsaamheid word vierkant op die mens se eie skouers gelaai. “Jý is die man!” soos Natan vir Dawid gesê het (2 Sam 12:7).

Tereg so. Té lank kom mense – gelowiges, die Here se kinders, óns – met selfbedrog weg. Verskoon ons onsself, spreek ons onsself vry. Trek ons ons skouers op en sê: Dit is nou maar so …

In ons vromer oomblikke sal ons wel sê: Ek is maar net ’n mens. Of ons stof dié ou gunsteling af: Is ons nie maar almal in sonde ontvang en gebore nie?

Ag, watter groteske bedrog word daar nie in die mens se hart gehuisves nie. Soveel vrome verdraaiing. Soveel selfmisleiding.

Die alternatief is heel eenvoudig: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is …” (v 7). Die mens wat Fort Ek agterlaat en by die ware Beskermer gaan skuil. Wat nie terugkyk nie. Wat nie ander se raad soek nie, omdat hy weet in watter woestyne dit hom al laat beland het. Hy onthou goed hoe daardie droogtes voel, en hoeveel vals hoop in lugspieëlings lê.

Hy skaam hom dat hy dit alles geglo het. Omdat dit gerieflik was, omdat dit hom gewild gemaak het. Omdat “vertroue in die Here” so outyds is.

Ek is moeg, Here, vir die bedrog in my hart. Verlos my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.