Lees 2 Korintiërs 1:12-19.
Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek … Was ek miskien oorhaastig …? (v 15-17).
Paulus verander sy reisplanne, en in hierdie klompie verse (eintlik ’n hele klomp – van hoofstuk 1:12 tot hoofstuk 2:4, ’n hele sewentien verse) verduidelik hy sy motivering daarvoor. Hy besef dat hy verwagtings gewek het waaraan hy nou nie gaan voldoen nie, en hy is jammer daaroor. Maar, sê hy, hy doen dit nie uit menslike oorwegings nie; dit is om die gemeente se beswil dat hy van sy oorspronklike plan afwyk.
Interessant, nè, dié uitvoerige verduideliking. Die herhaalde versekering dat dit nie ’n lukrake besluit was nie. Dat dit deel is van die “openhartigheid en eerlikheid wat van God kom” (v 12).
Hierdie lang relaas stuit baie gelowiges, juis ook dié in leiersposisies, teen die bors. Hulle vra: Hoekom moet Paulus so verduidelik? Hoekom alles, soos vir ’n nukkerige kind, uiteensit? Sê die ding soos dit is, man, en basta met die res! As hulle dit nie wil verstaan nie, moet hulle maar daaraan gewoond raak. Die kerk is immers nie ’n demokrasie waar die wil van die mense die deurslag gee nie.
Tog kies Paulus die lang pad van verduidelik, motiveer, oor en oor verseker dat hy bloot hul beswil op die oog het. Ja, soos vir kinders wat iets belowe is en dit toe nie ontvang het nie. Ek het julle baie lief, skryf hy uiteindelik (1 Kor 2:4).
Presies hier lê die les vir elke leier: Loop die ekstra kilometer ter wille van jou mense. Laat jou liefde vir hulle die deurslag gee, al moet jy ongewilde besluite neem. Al moet jy selfs, ter wille van hulle, jou woord nie gestand doen nie.
Here, ek kies so graag die gewildheidroete. Keer my voor! Wys my u pad.
Barend Vos