Lees Lukas 11:37-52.
“Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God” (v 42).
Jesus praat met die godsdiensleiers op ’n manier waarop sekerlik niemand nog ooit met hulle gepraat het nie. Hy brand los op wat hulle nog altyd as hul godsdienstige sterkpunt beskou het: hul noukeurige nakoming van die wet. Dit wat Moses hul voorvaders geleer het, én dit wat hulle deur die eeue bygelas het.
Gee jul tiendes, is hulle geleer. En toe brei hulle hierdie opdrag uit tot alles onder die son, selfs hul kruie en speserye. So sweet hulle om, noulettend, alles uit te werk wat hulle verskuldig is, en versaak op hierdie wyse die waarheid van hul diens aan God. Dit wat die swaarste weeg: geregtigheid, en liefde vir God.
Ons kan dit verstaan. Om jou kruie tot op die laaste gram af te weeg, is baie eenvoudiger as om te soek na wat reg is. Of om die Here lief te hê met alles wat ons het: hart, siel, verstand, al ons krag. Die najaag van hierdie liefde en geregtigheid vereis veel meer as ’n vermoë om te kan weeg of tel. Tensy jy sewentig maal sewe as ’n sommetjie beskou.
Die destydse godsdiensleiers se toewyding het besonder indrukwekkend gelyk, in die sinagoges en op straat (v 43), by die spoggerige monumente vir die ou profete (v 47). Maar Jesus dui herhaaldelik op die gevolge daarvan: “Ellende wag vir julle …” (v 42, 43, 46, 47, 52).
Hoe ellendig is vormgodsdiens nie. Dit bluf niemand nie, en dit troos sekerlik nie die beoefenaars daarvan nie. Is die alternatief dan só moeilik …?
Ag, Here, leer my hoe om geregtigheid te soek, hoe om U waarlik lief te hê.
Barend Vos