Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Here se saak

Lees Psalm 37:1-11, 39-40.

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here (v 3-4).

Moet jou nie ontstel oor die skynbare voorspoed van goddelose mense nie. Skelms se rakleeftyd verstryk gouer as wat jy – en hulle! – dink. Daar is baie beter dinge om te doen as om jou oor hulle te kwel. Byvoorbeeld: Gaan voort met jou lewe. Die Here wat Hom nog altyd oor jou gekwel het, sal steeds sorg.

Dit is ’n kort samevatting van hierdie langerige psalm. En dalk moet gelowiges dié paar sinne dadelik op ’n yskasdeur plak, daar waar hulle vandag ’n paar keer gaan aandoen. Of dalk voor hul bed, waar hulle vanoggend of vanaand gaan kniel.

Miskien is die heel beste plek vir hierdie opgeplakte samevatting bo teen die plafon. Daar waarheen jy staar wanneer jy op jou bed lê en sukkel om tot slaap te kom. Ja, gaan plak dit daar, sodat jy dit nie kan miskyk nie: die vermaning om jou nie oor skelms te ontstel nie. Om nie jou tyd en krag en slaap ter wille van boelies en ander skurke op te offer nie.

Want wat kan jý nou eintlik daaraan doen? Sal jy, soos Jesus later sou sê, daardeur jou lewe “met een enkele uur verleng”? (Matt 6:27). Nee, jy kan niks aan hulle doen nie. En jy wil ook nie. Hulle is in die Here se visier. Hý sal vergeld (Rom 12:19).

Haal dan maar daardie nota af van die yskasdeur, die bed se kopstuk, die plafon. Skeur dit op. Vergeet van hulle. Die Here sal aan hulle dink, en sy tyd afwag.

Leef vol vreugde voort in die beskerming van Hom wat jou nooit sal vergeet nie.

Reinig my gemoed, Here! Ek laat alles aan U oor.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.