Lees Genesis 44:1-17.
Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons … ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is” (v 16).
Josef, sy pa se gunsteling. Josef met die veelkleurige droomjas. Josef die gehate broer. Josef die verkoopte slaaf. En nou, oplaas, Josef die baas, die man met die hoofamptenaar vir wie hy opdragte gee. Josef, ’n man met ’n plan …
’n Nogal wrede plan: Hy laat “plant” ’n silwerbeker in boetie Benjamin se bagasie. En toe dié kosbaarheid in Benjamin se sak ontdek word, is daar moeilikheid. Die broers skeur hul klere, klim weer op die donkies en kies koers terug Egipte toe. Hier sal hulle maar hul pak moet vat.
Die oudste broer, Juda, se belydenis is eenvoudig: Ons is skuldig, ons het geen verskoning nie, u kan ons maar straf, ons almal.
Merkwaardig, nè? Die broers aanvaar gesamentlike verantwoordelikheid vir die “misdaad” wat hul jongste boetie gepleeg het. Hier is geen sprake van “jy het jou eie bed opgemaak, gaan slaap nou maar daarop” nie. Nee. “Hier is ons …” sê Juda, “ons almal.”
Hoe jy ook al hierdie verhaal lees, jy kan geen ander afleiding maak as dat die broers eerlikwaar die klein beskuldigde wil bystaan nie. Dalk het hulle iets geleer ná hul ellendige optrede vroeër teen die dromertjie-met-die-jas. Dalk is dit hul gewete …
Dit is nietemin verfrissend om so iets te hoor, al kom hierdie teks deur die eeue na ons toe. Ja, om juis vandag te verneem van mense wat sê “ons” – welwetend dat hulle daarvoor ’n prys gaan betaal.
Dit is U, Here, wat mense saambind. Dit is U wat ons uit ons foute laat leer. Ons prys u Naam!
Barend Vos