Lees Genesis 45:3-11, 15.
“Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel” (v 8).
Hier kom alles uiteindelik op die lappe. Josef, vertel die skrywer, kon sy emosies nie meer beheer nie en het al sy Egiptiese amptenare van hom af weggestuur. Net sy broers was by hom. En toe het hy begin huil, so hard dat almal in die paleis hom kon hoor.
Toe vra hy uit oor sy pa. Sy broers kon hul ore nie glo nie. Is dit werklik Josef, die verkoopte slaaf, ons broertjie oor wie ons ’n liegstorie vertel het? Is dit werklik hý, hierdie magtige Egiptenaar?
Dit is hy. En hy sal hulle sekerlik nou terugbetaal vir alles wat hulle hom aangedoen het. Hy sal behoorlik wraak neem – omdat hy kan. Hy sal ten minste sy dreigement uitvoer en Benjamin na behore straf. Of die broers se “aanbod” aanvaar dat hulle almal tot slawearbeid gevonnis word. Boonop is daar Juda se pleidooi: “Hou my … hier as Meneer se slaaf …” (Gen 44:10-33).
Maar Josef het niks hiervan ooit oorweeg nie. Hy het iets heeltemal anders in gedagte: Hy gaan haal die storie ver – by hul motiewe, hul bose dade – en stel dit in ’n splinternuwe perspektief. Nie net slaan hy só hul asem weg nie, hy verras ook die latere lesers van hierdie verhaal.
Julle was, onwetend, bloot God se handlangers, sê hy vir die broers. Julle maak allerlei planne, maar God het sy eie plan met al jul plannetjies.
Julle sús en julle só – maar Gód!
Ja, “maar God” … Dit bly waarskynlik die kortste samevatting van die blye evangelie.
U buig die kwade om. U slaan ’n reguit hou met ’n krom stok. Ek prys u Naam!
Barend Vos