Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sonder antwoord

Lees Psalm 38.

Ek vertrou op U, Here, U sal antwoord (v 16).

Lees hierdie psalm van hoek tot kant deur: Jy sal nie ’n antwoord vind nie. Geen verligting nie. Soos dit in die eerste vers met ’n smeekroep begin (“Moet my tog nie …”) eindig dit meer as twintig verse later: “Maak tog gou om my te help …”

Die redes vir die benoudheid wissel: In die eerste verse is dit die Here se hand wat “swaar op my” lê (v 3); in die daaropvolgende gedeelte wys die digter die vinger na homself, “my eie dwaasheid” (v 6). Nóg later wys hy sy vyande uit “wat my sonder rede haat” (v 20).

Maar deurentyd, van begin tot einde, smeek hy: Help my, Here!

Maak tog gou! “U weet waarna ek smag …” (v 10).

Wat ’n roerende pleidooi. En ons kan ons, eeue later, steeds daarmee vereenselwig. Met die desperaatheid, met die vyande – juis ook onsself, wat merendeels ons eie grootste vyand is. Ja, en selfs met die belewenis van die Here se swaar hand, sy toorn oor ons.

Maar veral, verál, met die noodroep waarop die antwoord steeds uitbly. Want wie van ons ken nie daardie stilte ná gebed nie? Wie het nog nie gewonder of ons gebede nie maar iewers tussen bed en plafon vassteek nie? Is ek ooit gehoor? Is daar hoegenaamd Iemand wat my aanhoor?

Dié digter wonder nie daaroor nie. Sy gebed het maar een adres: “Here, my Redder!” (v 23). Nee, hy weet goed God hoor; dit is net die gewag wat hom onderkry.

By hom is dit geen kwessie nie: Om sonder ’n antwoord te wees, beteken nie dat jy sonder God is nie. Nooit. Moet jou net nie skaam om aan te hou vra nie. Dit sou ook Jesus later sê (Luk 11:5-13).

Ek vra sonder ophou, Here, ek soebat: Hoor my! Help my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.