Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Kerkmense

Lees Psalm 92:1-4, 12-15.

Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God (v 14).

Dit is ’n tipiese lofpsalm dié. Die musiekinstrumente word uitgehaal; die woorde kom maklik, soggens en saans. God se liefde is sigbaar.

Dan gaan die psalmskrywer oor tot die besonderhede van God se goedheid vir hom, die dankbare sanger. En vir hulle, sy geesgenote. Hul krag kom van Hom af, sê hy, van altyd af en vir altyd. Die Godshuis is hul woning, sing hy, hul grootwordplek. En daarom hou die jare wat verbyvlieg en die aansluipende ouderdom vir hulle geen bedreiging in nie. Inteendeel: “Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag” (v 15).

Dit, hierdie heuglikheid, is die gevolg van hul teenwoordigheid in “die huis van die Here”. Mooi, nè?

Hoeveel mense deur die eeue kan nie hier saampraat nie! Dit is hulle wat graag sê: “Ek het in die kerk grootgeword.” Hulle na wie daar met agting verwys word as “kerkmense”. Hulle het nog altyd die kerk as ’n tuiste gekoester. Veral ’n geestelike tuiste, ja, maar ook as ’n sosiale omgewing waarby hulle naatloos inskakel. ’n Plek waar hulle leer (en hulle laat leer) om leiding te neem, om voor ander te praat, om hardop te bid. Om voete én skottelgoed te was. Om mens te wees tussen ander mense. Om tot hul oudag steeds te groei in geloof. En genadebesef. En vergifnis. En vrede.

Hoe jammer dus vir diegene wat dit alles ontbeer – buite én, helaas, ook binne die kerk. Veral laasgenoemdes wat in die kerk oud word, maar steeds deur kinderagtigheid regeer word. Wat nog nooit gesnap het dat ’n erediens toe nooit ’n diens aan hulleself is nie.

Leer my, kerkmens-deur-u-genade, om juis hier ’n tuiste vir almal te skep, Here!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.