Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wonderwoord

Lees Jesaja 55:10-13.

… dit sal doen wat Ek gedoen wil hê … (v 11).

Met ’n eenvoudige en tog logiese prentjie wys die Here deur sy profeet hoe kosbaar sy woord is: Die water kom uit die hemel en maak die aarde nat. Só kom my woord, sê Hy, na hulle vir wie Ek dit gee, en dit bereik sy doel. Soos die nattigheid ’n deurslaggewende uitwerking op die aarde het, so ook my woord. Die deurdrenkte grond bring ’n oes voort; met my woord gebeur dieselfde.

Eenvoudig, ja. Logies, sonder twyfel. O, en ’n mooi prentjie! Maar soos die meeste mooi dinge is dit ook broos, dié prentjie.

Veral die Godswoord-gedeelte van hierdie vergelyking ly onder ons verwagtingloosheid. Juis deesdae. Ons sukkel om daaroor opgewonde te raak. Kyk, daar is mos mense – ons? – wat aan ’n oordaad van hierdie woord blootgestel is. Van kleins af het hulle – ons? – hierdie woord (en allerlei interpretasies daarvan, sommige erg vergesog) gehoor. Nou raak dit hulle – ons? – nie meer nie. Ons hoor dit nie eintlik nie. Dit het geen invloed meer op ons lewe nie. Dit weet ons – al bêre ons hierdie wete diep in ons hart. Interessant, dan, dat die Here oor hierdie woord sê dit sal doen wat Hy gedoen wil hê. Ons sogenaamde oorversadiging ten spyt. Ons bygeloof en sinisme en verveling het toe nooit die laaste sê nie. Hy, die Spreker van dié woord, sê ons hoef ons regtig nie te bekommer of dit ontkiem en vrug dra nie. Die Wonderwoord is Syne, en dit sal “tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het” (v 11).

Ons weet wel dat sy vernaamste bouwerk by ons begin. Ons, die alleswetende onwilliges, die hardhorende baiepraters, die hoogs ingeligte niksdoeners.

Spreek net die woord, Here! En leer my dan om te doen wat U vra.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.