Lees Jesaja 58:1-12.
Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet (v 2).
Vandag begin die lydenstyd – veertig dae se saamloop op Jesus se lydensweg, tot by die kruisiging en opstanding. En niemand kon vir ’n groter knal gevra het as dié klompie verse om hierdie reis mee te begin nie.
Hoor dan hier: Die Here kla deur sy profeet dat sy mense hulle nie regtig aan Hom steur nie. Hulle maak al die regte geluide en gebare, maar wanneer hul saak en sak geraak word, doen hulle net wat vir hulle voordelig is. Ja, hulle vra kamma, vol vroomheid en voorgee, wat die Here se wil vir hul lewe is – en dan leef hulle in elk geval soos hulle wil.
Die Here vaar woedend uit teen hierdie skyngodsdiens. Hulle moet nie dink Hy is gediend met al hul “vertonings” nie, sê Hy. Dit wat Hy wil hê, doen hulle nie. Hulle sorg nie vir die armes en die sukkelaars nie, hulle draai hul rug vir die dakloses en verdruktes.
Intussen baklei hulle dat die hare waai, bid dat die biesies bewe, speel kerk-kerk asof dit uit die mode raak – en vergeet wie die Een is aan wie daardie gebede gerig is en in wie se Naam die vasdae gehou word.
Kan hulle dan verwag om geseën te word?
Nou kla mense wat beter moet weet oor die donkerte in hul omgewing, oor die Here wat hulle nie hoor nie. Hulle sal nooit daaraan dink dat hul medemens die sleutel tot al hul klagtes dra nie, daardie mens wat oor hul pad gestuur word en vir wie hulle blatant ignoreer.
Here, ek vra ernstig na u wil – en toe stuur U húlle na my toe! Wat wil U hê moet ek doen?
Barend Vos