Lees Handelinge 7:35-42.
“Ons voorvaders wou egter nie na hom luister nie. Hulle het … na Egipte terug verlang” (v 39).
Stefanus was een van die vroeë kerk se eerste diakens. Die bietjie wat ons van hom weet (eintlik bloot uit twee hoofstukke in Handelinge), laat ons egter voel dat hy die een of ander hoofseun moes gewees het. Hy was immers ingelig genoeg. En vurig!
Maar “diaken” beteken “dienskneg”, en dit is wat Stefanus by uitnemendheid was. In die kort tydjie dat hy in die Here van sy kerk se diens was, het hy sy kanse (eintlik was daar maar één kans) voluit gebruik.
In hierdie paar verse is hy reeds fluks besig met ’n lang toespraak voor die Joodse Raad. Sy uitvoerige ontmaskering van die voorvaders se geloof slaan raak en seer, en uiteindelik sou Stefanus die hoogste prys vir sy “verraad” betaal. Vat jy aan óns vaders se geloof, vat jy aan ons …
Hier het hy dit byvoorbeeld oor die veelgeroemde Mosesgeskiedenis, die verhaal van die befaamde uittog uit Egipte. Behalwe, sê Stefanus, dat dit allesbehalwe roemryk was. Inteendeel. In enkele sinne vertel hy hulle wat almal reeds weet, maar wat doelbewus verswyg word: Die voorvaders was nukkerige afgodsdienaars. Behep met Egipte se vleispotte en sy vele godsdienste.
En Stefanus speel gou-gou met die waanbeeld oor “ons voorvaders” klaar. Hulle vir wie God maar “laat begaan (het) om die sterre te aanbid” (v 42).
Die glansryke nageslag, die allervromes, wou dít nie hoor nie. Beslis nie van ’n klein snuiter soos hierdie Stefanus nie. Daarom sou hulle hom met klippe begin gooi, letterlik. Dit tref helaas soms die Here se diensknegte: die klippe.
Here, leer my hoe om my kanse tot u eer te gebruik. Ten spyte van die klippe.
Barend Vos