Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Altare

Lees Genesis 13:1-7, 14-18.

Abram het … gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou (v 18).

Dit kom al ver, van die begin van Abram se reise, die ding dat hy so altare vir die Here bou. Twee daarvan: een in Sigem, een oos van Bet-El (Gen 12:7-8).

En hier is dit weer. Dié altaarbouery was nie om dowe neute nie. Elkeen van hulle merk ’n plek waar Abram en sy mense tot stilstand gekom het en kon asemskep. Kon terugkyk op die pad waarlangs hulle tot daar gevorder het.

Want die pad-tot-daar word nie altyd in dagreise gemeet nie. Daar is deurentyd ook die hardepad van emosies en eiebelang, van val en probeer opstaan. Van bely en weer opgehelp word. Van selfondersoek en herbesinning.

Daar was mos die hartseer episode van Abram se leuen aan die Egiptiese farao, daardie ompad wat vir seker nie in die Here se roetekaart vir hom opgeneem is nie.

Boonop die relletjie tussen Abram se veewagters en Lot s’n oor die beste weiveld. Abram wat uiteindelik terugstaan en vir Lot aansê om eerste te kies. Laasgenoemde wat, na sy eie én Abram se oordeel, die beste deel vir homself vat. Die hele Jordaanstreek – Sodom inkluis.

Hoe moes die uitbundige Lot geweet het dat dit ’n noodlottige keuse was? Hy sou dit eers uitvind toe dit te laat was.

En Abram? Hý sou deur die Here getroos word. By Hom sou Abram verneem dat die aanvanklike Godsbelofte, die rede vir daardie eerste klompie altare, uitgebrei word.

Toe bou hy weer ’n altaar. Die groot bome van Mamre by Hebron sou die getuies wees van ’n begenadigde se aanbidding van die groot Gewer.

Liewe Heer, ook my lewensreis het volop plekke soos dié. Dankie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.