Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gerus

Lees Psalm 27.

Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem (v 10).

Hierdie geliefde psalm volg ’n bekende patroon, een wat by baie psalms voorkom. Eers is daar ’n sterk, uitgebreide geloofsbelydenis: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?” (v 1). In Psalm 23, byvoorbeeld, lui vers 1: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.”

Ná etlike dergelike versekerings spreek die psalmskrywer nou die Here aan: “Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig …” (v 7). In Psalm 23 gebeur dit in hierdie woorde: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my” (v 4).

Uiteindelik word Psalm 27 afgesluit met ’n dankbare uitroep: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed!” (v 14). Psalm 23 eindig só: “… ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae” (v 6).

Dit is die patroon: gerusstellend geyk, bekend, die ene vrede. Met hierdie goue draad wat dwarsdeur loop: God is groot; God is goed. Die misdadige teenstanders het nie ’n kans nie. Diegene wat in die Here se huis tuis is, beleef sy goedheid dáár. Dit is hul skuilplek. Hiervandaan kyk hulle, veilig, seëvierend, op die boosdoeners neer. Gelowiges het deur die eeue in hierdie en soortgelyke psalms ’n klankbord vir hul eie belewenisse gevind, en woorde vir hul diepste gedagtes. ’n Troos te midde van hul vrese, ’n herinnering aan hul vaste Rots. Uiteindelik is dit ’n oproep om op Hom te vertrou wat nog altyd die vanselfsprekende toevlugsoord gebied het vir verwilderde, verskrikte kinders. Hulle wat weet dat hul Here nooit met hande gevou toekyk hoe hulle verrinneweer word nie.

Ek rus in u arms, my ewige Lig, my Redder.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.