Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Boodskappers

Lees Matteus 23:37-39.

“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is” (v 37).

Dit is geen wonder dat die volksleiers, wat sommer ook die godsdiensvoormanne was, Jesus uit die weg wou ruim nie. Hy draai geen doekies om wanneer Hy hulle kortvat nie; Hy sê ’n ding soos dit is. En Hy skroom nie om sy net wyd uit te gooi nie – tot by die allerheiligste herinnerings: dié oor die verlede, oor die voorvaders, oor die “goeie ou dae”.

Hier kreet Hy sy klagte oor Jerusalem uit, die eeue oue setel van die Joodse godsdiens. Oor die leiers wat van altyd af, en juis nou weer in die Jesustyd, van die profete ontslae raak wat daarheen gestuur word. Hulle, die boodskappers van Bo, wat die godsdienstige elite se waardes kom bevraagteken. Wat die “waarhede” uitdaag en hulle só die argwaan van die hoës en die vernames op die hals haal. Stenig hulle! was die opdrag uit daardie kringe. Kruisig Hom! sou dit aanstons opklink.

Bybellesers moet tog nie Jesus se trane hier miskyk nie. Sy diep hartseer oor die plek wat vir alle Jode kosbaar is en wat nou aan plundering en verwoesting oorgegee word omdat die leiers doen wat hulle doen.

En juis hedendaagse gelowiges, mense soos ons, moet kennis neem van Jesus se snydende veroordeling van gevestigde belange wat vroom agter verstokte sienings versteek word. Oor die profete wat deur óns onder die klippe gesteek word en die gestuurdes wie se boodskap deur óns verdag gemaak word. Omdat hul eerlikheid ons ongemaklik laat, en selfs bedreig.

U ken my hart, Here, en ook my ore wat net wil hoor wat hulle wil hoor. Reinig my, van kop tot tone! Laat my hoor wat die Gees vir die gemeente sê.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.