Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Onthou!

Lees Psalm 105:1-15.

Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade (v 5).

Tipies, dié oproep van ’n geestelike voorganger, nie waar nie? Die bevel om God te loof, om terug te dink aan sy daadwerklike goedheid, aan die kere toe Hy hulle gered het. Daar is mos baie sulke geleenthede; hulle behoort nie te sukkel om te onthou nie.

Hoekom is dit dan hoegenaamd nodig dat die psalmdigter sy mense moet aanmoedig om dit te doen? Is hulle bloot, soos alle gelowiges, traag om dankie te sê nadat hulle haastig was om asseblief te vra? Waarskynlik, ja.

Daar is dalk ook iets anders: Mense, juis ook gelowige mense, mense soos ons, sien nie die Here se hand vanselfsprekend raak nie. Ook ons word opgeneem en meegesleur in die spreektaal van ons tyd. “Soos dit moet wees,” sê ons. En “toevallig”. En “per ongeluk”. Ja, en dalk selfs “soos die duiwel dit wou hê”.

Ons moet dus geleer word, soos kinders “dankie” en “asseblief ” leer, om ons taalgebruik te verander. Om te sê: “Die Here se hand was oor ons.” En: “Dank God! Ons het deur dit alles anderkant uitgekom.”

Dit behels natuurlik veel meer as woorde en sinne; dit vra ook die ABC van mooi kyk, van góéd sien, van agter die oënskynlike die Verborgene raaksien. Ja, om God se hand in alles wat goed is, te herken. Om voor en ná al die name wat ons so graag voor mense noem as ons dankie sê, aan die groot Naam die erkenning te gee wat Hom toekom.

Hiervoor het ons dié soort psalm se hulp nodig. Al is dit net om nogmaals te verneem: Dink ’n bietjie verder, Godskind! Dink aan waar alles vandaan kom.

U is die Here van môre en vandag, en goddank ook van gister. Halleluja!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.