Boodskap vir Vandag

Search

’n Dor land

Lees Psalm 63:1-9.

Ek soek U, o God, my God (v 2).

“’n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Judawoestyn.”

Só lui die opskrif van hierdie psalm. Daarmee kry ons ook die verklaring vir die beeldspraak hierin. Vir die sterk werkwoorde waarmee dit begin: “… ek dors na U; ek smag na U …” (v 2).

Dit is nie seker of Dawid steeds in dié woestyn skuil wanneer hy hier skryf en of hy dit terugskouend doen nie. Dit maak in elk geval nie saak nie – die vaste waarheid hierin spring soos ’n helder fontein uit die dorre klippe: “Ek bly altyd naby U …” (v 9).

Ja, of hy deur die genade weer terug is in die tempel en of hy steeds in die wildernis wegkruip, hy weet sy Here is by hom. Daarom kom dit vir hom natuurlik om sy hande op te hef om Hom te prys (v 5). Om sy mond oop te maak om Hom te loof (v 6). Hy kry dit reg om snags op sy bed, te midde van ander bekommernisse wat hom waaksaam en straks ook uit die slaap hou, aan sy Here te dink. Om sy goedheid voor oë te hou, juis ook in daardie mees weerlose tyd, dié tussen sononder en dagbreek.

Dit bly gelowiges se groot troos: hul Here is nie ver nie. Israel se Bewaarder sluimer of slaap nie. Hy is die God van die kerk én die woestyn. Hy hoor luidkeelse jubeling (v 6) en diepe nadenke (v 7) ewe goed.

Én, spesiaal vir woestyndwalers en Godsoekers deur die eeue wat dit nou nog nie weet nie: Hy laat Hom vind. Maklik, maklik. Hy is tog ook die oop-en-bloot-God.

Here, ek is die wegkruiper, die verdwaler. U het my gevind. Ek prys u Naam!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.