Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Voordat ’n gemeente sterf …

Lees Openbaring 3:1-6.

Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het (v 2).

Johannes skryf sewe briewe in opdrag van die stem wat met hom gepraat het (Op 1:10-11). Een aan elk van ’n klompie gemeentes in Klein-Asië. Hierdie een is die vyfde, dié aan die gemeente in Sardis.

Soos aan al die ander, bevat ook hierdie brief ’n mengsel van bemoediging en verwyt, van waarskuwings en opdragte. En ook hier staan die werklike Afsender se kennis van die gemeente se spesifieke omstandighede soos ’n paal bo water: “Ek weet alles wat julle doen” (v 1).

Klaarblyklik hang Sardis se bestaan as gemeente aan ’n draadjie. Daar is sprake daarvan dat die laaste goeie dinge hier aan ’t doodloop is, al is hul reputasie nog ongeskonde. En dit is nie vir die Here van die gemeente aanvaarbaar nie. Daarom waarsku Hy hulle: Word wakker!

Ja-nee, ’n gemeente kan die naam hê dat hy lewe, maar die Een wie se Naam eintlik op die spel is, weet haarfyn wat daar aangaan. Hy word nie – soos mense en hul kommissies – deur reputasie en bravade om die bos gelei nie. Hy kyk verby lidmaatgetalle en begrotings en sien die waarheid. Hy bereken lewe en nielewe volgens die maatstawwe wat Hy vir sy gemeente aangelê het.

Dít moet niemand verbaas nie. Sy Naam is in die gedrang, én sy Naamdraers, hulle wat “Christene” genoem word.

Elke Christelike gemeente in elke eeu se voortbestaan in sy Naam is sonder meer aan sy standaarde gekoppel. En dit is nie hemelhoog nie. Dit hang wel ten nouste saam met die ontvangs van en die luister na die evangelie (v 3). Sodat die gemeente kan hoor wat die Gees sê. ’n Gemeente sonder die evangelie is ’n klub.

Maak ons sensitief vir u stem, Here. Maak ons doof vir slimmighede.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.