Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vrugte

Lees Lukas 6:43-45.

“Elke boom word aan sy eie vrugte geken” (v 44).

Jesus se gelykenisse, die langes én die kortes, vra dikwels grondige dinkwerk om uit te pluis. Daar word lank daaroor geredeneer en boeke en boekdele daaroor geskryf.

Maar soms is die betekenis daarvan so voor die hand liggend dat selfs jy in jou stiksienigheid nie anders kan nie as om dit feitlik onmiddellik te snap. Soos hierdie een oor die boom en die vrugte, oor die mond wat oorloop waarvan die hart vol is. Dit is trouens oorbekend – en daarom glip ons getroue Bybellees-oog gemaklik daaroor. Ons dink lankal nie meer oor dié een nie; daar staan mos wat daar staan, en dit is eenvoudig en waar en ’n vingerwysing. En ’n ernstige vermaning vir al daardie mense met ’n hart vol verrotting en ’n lorrievrag goor gedagtes.

Dit waarsku ook vir my, vroom gelowige. Ek met die rein hart en die silwerskoon gewete. Ek wat nooit meer oplet na die soort vrugte wat ek dra nie. Wat nooit meer in die spieël kyk en sien hoe oorgroei die boom geraak het nie. Hoeveel nuttelose takke, hoeveel geil blare die wêreld vol hang. En hoe armoedig, hoe niksbeduidend, die vruggies is.

Nee, ek lees hierdie klein gelykenis en sy knallende slot met ’n meewarige glimlag en maak ’n nota in my gedagtes om ’n ander een se vuil praatjies aan ’n hart vol morsigheid toe te skryf. Ek vergeet skoon van die soort vrugte wat ek, Godskind, behoort te dra.

En ek wonder nie meer hoe op aarde dit gebeur het dat ’n gekoesterde vyeboom soveel skerp dorings voortbring nie …

Ek skaam my, Here, dat ander mense hulle misreken met my vrugte. Dat hulle nie weet hoe hulle dit met my het nie. Maak my anders, Here!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.