Lees Jesaja 55:1-9.
My gedagtes is nie julle gedagtes nie … (v 8).
Dit is ook maar goed so, nie waar nie? Dié dat God se denke en dade van ’n ander orde en aard as ons s’n is. Want dit weerhou ons van ’n oormoedige paradering met ons gewaande Godkennis, ’n breedsprakige uitstalling van alles wat ons kamma by Hom gehoor het. Wanneer Hy wát vir ons sou gesê het.
Of hoe?
Dit is tog vanselfsprekend dat ons ons grootoog oor sy roekelose vrygewigheid sal verwonder. Oor die onbegryplikheid van sy wydoop hande (v 1). Sy nabyheid aan mense soos ons wat na Hom roep, wat Hom soek (v 6). Sy herhaalde vergifnis (v 7). Dit alles is ’n ongekende houding, ’n verbluffende werkwyse, by enige god, in alle tye. En dit dwing ons, die ontvangers van hierdie “genade, onbeskryflik groot”, tot uitbundige dank en/of ’n eerbiedige swye wanneer ons met soveel goedheid gekonfronteer word.
Of hoe?
Nou: Hoe gebeur dit dan dat gelowiges so tuis geword het in God se teenwoordigheid dat hulle die geselskap begin oorneem het? Dat hulle, soos stout kinders, die aandag opeis wat God toekom? Dat hulle so volledig ingelig is oor God se saak, sy wil, sy doen en late? Dat hulle tot elke prys as Godkenners gesien en gehoor en bewonder wil word? Dat hulle so onafgebroke oor Hom praat dat hulle lankal opgehou het om mét Hom te praat? Dat hulle, kinders van die grote God, hulle aanmatig om die vernaamste verdedigers van sy saak te word, die beskermers van sy Naam?
Asof Hy nie is wat Hy is nie. En dit altyd sal wees nie, ten spyte van ons.
Ag, Here, help my dat ek my plek sal ken wanneer ek voor U kniel.
Barend Vos