Lees Psalm 32.
Dit gaan goed met die mens … wie se sonde vergewe word (v 1).
Daar is dus ’n uitweg vir ’n sondaar se beswaardheid – vergifnis. Trouens, die digter beskryf die voorvergifnislewe as ’n verskrikking: “… my liggaam (het) uitgeteer … my krag het opgedroog …” (v 3-4).
Nadat hy bewus geword het van die vergifnis wat die Here hom skenk, het hy eensklaps nuwe krag. Sien hy weer kans vir uitdagings, soos om die aanslae teen hom driftig af te weer. Die Here is vir hom ’n skuilplek, besef hy opnuut, ’n raadgewer, niks minder nie as ’n getroue oppasser.
Om te dink dat hy al hierdie dinge moes ontbeer omdat hy gedink het hy kan alles self oplos. Om te dink dat hy homself soveel skade aangedoen het deur met die skuld en die skuldgevoelens te probeer saamleef …
Hoe klink dit alles dan so ongemaklik bekend? Hoe het dit gebeur, wonder ek nou, dat hierdie psalmwoorde so naatloos in my storie inpas?
As ons tog maar sy raad hoor en hierdie wenk ter harte neem: Gaan sê alles vir die Here …
Kan dit makliker, eenvoudiger, wees as dit?
Nee, dit is nie dat Hy eers dán van alles sal uitvind nie; Hy weet dit reeds, van die begin af. En, nee, néé: Hy het ook nie ons skuldbelydenis nodig voordat Hy ons vergewe nie. Hy sit nie handjies gevou en wag dat ons ons hart kom uitstort voordat Hy dit skoon was nie.
Hy weet wel, omdat Hy ons so goed ken, dat dit ons is wat dit nodiger as brood het om met Hom te kom praat. Om dit wat ons so opvreet voor Hom te bring. Sodat ons weer kan léwe.
Hier is ek, Here, u skuldbeswaarde kind. Neem weg die drag wat my so afrem, asseblief!
Barend Vos