Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Waarheen nou?

Lees Josua 4:14-24.

Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan (v 19).

Die ou trekvolk se tog deur die Jordaanrivier is verby. Die twaalf klippe, een vir elke stam, staan nou in Gilgal as ’n monument vir hierdie befaamde deurtog. Josua het gesorg dat dit ’n prominente plek inneem wanneer die woestyntrekkers kamp opslaan. Dit is hul eerste staanplek in die beloofde land. Jerigo, niksvermoedend, lê nou reg wes van hulle …

Dit is die regte tyd om dinge in oënskou te neem: Waar kom ons vandaan, waarheen is ons op pad? En, allerbelangrik, wie trek voor ons uit?

“Die Here julle God,” sê Josua aan sy mense (v 23). Laat daar hieroor geen misverstand wees nie. Dit is Hy, die God van die Rietsee se wonderbaarlike deurtog, wat ons tot hier gebring het. Droogvoets.

Hiervan getuig die klippe, sê Josua aan die gesinshoofde. “As julle kinders eendag hulle pa’s vra …” (v 21), dan weet julle wat om hulle te antwoord. En sê dit maar hard, roep dit uit, sodat almal kan hoor. Dit bly deur die eeue steeds die patroon, nie waar nie? Dié dat mense – ’n nasie, ’n volk, ’n kerk, ’n gemeente, ’n familie, ’n gesin – by spesiale geleenthede tot stilstand kom en asemskep en hulleself afvra: Hoe het ons tot hier gekom? En waarheen nou? Dikwels is daar deesdae ook die vraag: Is daar hoegenaamd iemand vir wie ons kan volg?

Ja, hoe hét ons dit tot hier toe oorleef?

Wees gereed, gelowige ouer, om jou kinders hierop te antwoord. Vertel hulle, wys hulle, sodat hulle gereed is vir wat voorlê. Sodat hulle getroos kan slaap en vol verwagting kan wakker word. Kan weet: Die Here loop voor. Hy maak ons paaie gelyk.

Ons volg U, Here, tree vir tree.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.