Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Ontvanger van sondaars

Lees Lukas 15:1-10.

“Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees …” (v 7).

Wat is daar nóg te sê oor hierdie twee gelykenisse (én die derde een, oor die seun wat weggeloop het) wat nog nie gesê is nie? Hierdie besonder belangrike sleutels tot ons verstaan van die evangelie?

Want wat kan ons byvoeg by die klassiek geworde driedeling van die ooreenstemmende gebeure in dié stories – die wegraak/ wegloop; die soektog-totdat-dit-gevind-word; die blydskap wanneer dit wel opgespoor word?

Kan ons dalk iets lees in Jesus se rolverdeling – met God as die herder, as die wagtende pa, as die … vrou?

Straks moet ons weer ’n keer na die gebeure kyk wat aanleiding tot hierdie vertellings gegee het: Jesus wat erg gekritiseer word omdat die sondaars die gewoonte gehad het om na Hom te kom luister. Omdat Hy die ondenkbare gedoen het om selfs saam met hulle te eet (v 1-2).

Toe vertel Hy mos dié stories aan die kerkmense, en toe ook daardie derde een oor die wegloopseun en die verlangende pa en die oudste broer.

Maar miskien lê die herhaalde uitdaging vir latere aanhoorders hiervan in die bepaling van óns plek hier. Oftewel: Is jy soos die afgedwaalde skaap, of soos een van die trop wat ’n veilige hawe vir weglopers bied? Is jy straks die klein ellendeling wat weggeloop het, of die oudste broer met die dikmond?

Want dit is eers as ons óns plek hier gevind het dat ons die eindelose bekommernis sal herken van die Een wie se eiendom soek geraak het. Die geroep, die gesoek, die uiteindelike uitbundigheid. En as ons eers ons plek hier herken, sal ons ons reaksie hierop kan beoordeel.

Dit is hierdie Godsgenade, onbeskryflik groot, wat my telkens oorweldig. Ek loof U, o Opsoekende Liefde!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.