Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dwase

Lees Psalm 53.

Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles (v 2).

Dit raak gaandeweg duidelik dat die psalmdigter se argwaan oor die dwases eintlik maar een oorsprong het: die aanvalle op sy mense deur diegene wat “my volk opeet” (v 5). Hierdie onregplegers is die dwases wat dink dat daar geen God is nie en wat vernietig so ver hulle gaan.

Maar, waarsku die digter hulle, die Here slaap nie; Hy kýk vir julle. Hy sien jul dwaling raak – en daar gaan “iets vreesliks” (v 6) met julle gebeur.

Dit is die tipiese reaksie van mense wat sonder ophou geboelie word; Godskinders wat dit nie meer kan uithou met die aanhoudende aanvalle op hulle nie: Hulle vertel die boelies van God se planne met diegene wat sy kinders te na kom. Wag maar, sê die mishandeldes, Hý sal julle kry, en dan is dit verby met julle.

Seergemaakte kinders maak mos so. Hulle sê: Wag maar, ek sal my pa gaan sê, en Hy sal met julle kom afreken. Hulle wend hulle tot hul kragbron. Hulle hardloop, dikwels huil-huil, na hul enigste troos. Hulle weet goed waar hul hulp vandaan kom en daarom gaan vertel hulle Hom álles … wat Hy reeds weet.

Ja-nee, dit is ’n dwase ding om te doen, die minagting van God se kinders. Die geneigdheid om oor die swakkes te loop – omdat hulle swak is. Om die weerloses uit te buit – omdat hulle weerloos is. Om sagtheid te verskree en inskiklikheid te misbruik.

Dit is bitter dwaas om te dink sulke misdade word nie raakgesien nie en sulke vernietiging kan ongestoord voortgaan. So asof daar geen God vir die swakkes en die weerloses en die sagtes en inskiklikes is nie.

Here, my Toevlug, in u krag vind ek my krag. U genade is vir my genoeg.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.