Lees Filippense 2:19-24.
Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie (v 20).
Wat ’n getuigskrif! Die warm komplimente vir Timoteus vloei maklik uit Paulus se pen. En dit sorg sekerlik vir lekker leesstof vir die gemeente in Filippi. Wie wil dan nie hoor dat die “eerstespan” na julle toe gestuur word nie? Dat net die topmens goed genoeg geag word om jul sake te behartig?
Vir ons wat nie in daardie tyd gelewe of in daardie gemeente aanbid het nie, het hierdie opmerkings van Paulus ook ’n ander relevansie. Ons stel tog nie regtig in Timoteus se voortreflikhede belang nie; sy goeie hoedanighede beteken nie veel vir óns saak nie. Wat wel vir ons van die hoogste belang is, is die feit dat dit Paulus is wat hierdie dinge oor ’n mededienskneg sê. ’n Ouer gelowige wat gloeiend oor ’n jonger kollega uitwei.
Maar, sal ’n buitestander dalk vra, dit is tog hoe dit hoort. Is dit nie presies wat kollegas-in-die kerk, broers en susters aan wie die bediening van die versoening toevertrou is aan mekaar verskuldig is nie? Anders gesê: Hoe oorleef voorgangers in hierdie uitdagende omgewing sonder sulke aanprysing?
Nou ja, daar is klaarblyklik heelparty van hulle wat juis dit moet doen: Probeer oorleef sonder ’n goeie woord van diegene wat hul uitdagings die beste behoort te begryp. Hul kollegas ken nie juis “hosanna!” nie; hulle is flinker met “kruisig hom!” Komplimente kom nie maklik nie; die ander een se vaardighede is straks vir hulle ’n bedreiging.
Hoe geseënd is Timoteus nie. Hoeveel kan hy nie by Paulus leer nie, hierdie geestelike vader wat hom in alle opsigte ondersteun. Wat ook agter sy rug net goeie dinge oor hom sê.
Leer my, Here, om ’n ander se werk na waarde te skat. Dit aan te prys. Om só lewe te gee aan u liefdesopdrag.
Barend Vos