Lees Filippense 2:25–3:1.
Ontvang hom … as ’n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting (v 29).
Epafroditos heet hierdie man. Wie het al van hom gehoor? In watter Bybelleser se gemoed staan sy naam in hoofletters geskryf?
Nee, nie veel van ons ken hom nie – behalwe dalk die hedendaagse blokraaiselkampioene. Dit is hulle wat ons sal vertel dat Epafroditos ’n byna onbenullige voetnota in die vroeë kerk se storie is. Bekend en moontlik gelief in die gemeente in Filippi. Iemand wat deur daardie kerk se mense vertrou is om Paulus in die tronk te gaan bystaan. Maar beslis nie ’n hoofkarakter van enige aard nie.
Hy lyk in elk geval ’n bietjie te broos na ons sin: Hy word gou “doodsiek” (v 27). Sodat Paulus – vir wie hy gaan bystaan het! – erg besorg raak oor hom en hom terugstuur (v 28).
Nee, Epafroditos is nie van groot belang nie. Hy was wel ’n mens wat gewillig was om na ’n medegelowige in nood gestuur te word. Hy is klaarblyklik een van daardie mense wat nie wil naam maak nie, maar bloot wil help. Wat nie allereers aan sy eie lewe dink voordat hy sy hand opsteek nie, maar aan die Here van sy lewe. Wat daarom die genade van Goddelike ontferming eerstehands ken.
Ag, en hoe dikwels is dit nie die heilige waarheid nie: Die helpers in die Here se koninkryk is nie kampioene nie. Ja, hulle laat hulle graag stuur, ook na ver plekke – al verlang hulle maklik terug huis toe (v 26). Hulle ken die einde van hul kragte maar té goed. Hulle dra die littekens van hul opofferings.
En al kan ons nie dadelik hul naam onthou nie, kan ons maar wens om soos hulle te wees: die koninkryk se kosbares.
U ken my naam, Here! Leer my om te lewe soos dit ’n koninkrykskind betaam.
Barend Vos