Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hoofletter-hoop

Lees Psalm 126.

Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring (v 5).

Hoop is ’n wonderlike ding. Die een of ander slim mens het eens gesê daardie ou spreekwoord “waar daar lewe is, is daar hoop” kan gerus omgekeer word dat dit só lui: Waar daar hoop is, is daar lewe.

En die Here weet ons het hoop nodig! Nodiger as brood.

Ja, daar is mense wat van hoop lewe. Hul ganse toekoms is op hoop gebou. Hul planne is op hoop gebaseer. Hierdie hoop wat hulle koester is nie, maar ’n hoop-op-die-beste nie. Hulle sal vir jou sê: “Die Here is my hoop.” Ook: “God is die Gewer van my drome.” En hulle droom groot.

Hulle sal jou ook vertel dat dit nie sommer ydele praatjies is nie en verreweg nie die gevolg van ’n dink-jouself-positief-kursus nie. Hulle het dit in geen pienkboekie raakgelees of by ’n teepartytjie aangesteek nie. Hulle het grondige redes waarom hulle so vol hoop is, sal hulle sê, ten spyte van beterweters se siniese gelag. Hulle sê gereeld dinge wat só begin: “Die Here het nog altyd …” En vul dit só aan: “Hy sal nou ook …”

As hulle die Nuwe Testament goed lees, sal hulle hul soort hoop dalk teologies regverdig en dit só formuleer: “Jesus Christus is my lewende hoop.”

Eintlik hoef hulle nie eens dáárheen te beduie nie. Hulle kan bloot Psalm 126 lees. Van die Here wat in ellendige situasies ingryp. Wat hooploosheid volledig omkeer. Wat nie net sy kinders se trane afvee nie, maar ook ’n jubeling in hul hart plant.

Hy maak die ou dinge nuut. Hy is die Een wat uit vrugteloosheid lewe skep. Hy is die Uitdinker en Aandraer van drome, én die Waarmaker daarvan. Ons Hoop, heet Hy. Ja, so met die hoofletter.

Ook ék lewe van hoop, Here. Van alles waarmee U my so geduldig voer.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.