Lees Jesaja 43:16-21.
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen … julle kan dit al sien kom … (v 19).
In hul ballingskapjare was soveel van die ou Godsvolk se hoop vir die toekoms, ironies genoeg, in hul verlede geleë. Gereeld word hulle opgeroep om terug te kyk, om God se spore agter hulle raak te sien, om te kyk hoe en waarlangs Hy hulle gelei het.
Die troos hierin was dít: Só het Hy destyds gedoen, só het Hy ons voorouers versorg en uit benouende situasies gered. En nou volg die hoop wat hieruit ontspring: Só sal Hy dit weer doen. Oftewel: Hy hét reeds; Hy sal weer.
Kortom: Onthou – en vertrou.
Hier stel Jesaja die Here aan die woord en dié keer vra Hy ’n ander perspektief: “Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie” (v 18). Kyk, daar wag iets nuuts op julle. Ek gaan iets heel anders doen. As julle mooi kyk, sal julle reeds die eerste tekens daarvan sien.
Eintlik behoort niks hiervan die ou volk te verras nie. Hul God was nog altyd die Skepper uit niks, die Herskepper uit chaos. Ook ons, veel latere aanbidders van hierdie God, ken Hom as die Nuwe Begin in ons lewe. Hy maak heel wat deur sonde gebreek is, Hy ruim agter ons op. Só loop sy spore, ook agter ons.
Wanneer Hy dus ’n nuwe perspektief van ons vra, kan ons gerus die ore spits en ons oë op skrefies trek. Kan ons mekaar opgewonde aanspoor om te help kyk: Wie sien dit eerste raak? Wie van ons wat so haarfyn van God se gisterse goedheid kan vertel, kan Hom in ons toekoms raaksien – aan ’t beplan, aan ’t werk?
Ek sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry. Ek sien U elke dag voor my!
Barend Vos