Lees Hebreërs 10:19-25.
Laat ons styf vashou aan die hoop … Laat ons ook na mekaar omsien (v 23-24).
Ons hoop is maar op een waarheid gegrond: God se trou. Op Hom wat sy beloftes nakom. Daarom is daar aan dié hoop veel meer sekerheid gekoppel as wat ons sou dink. Ja-nee, dit is geen hoop-op-die-beste nie; dit is hoop-vanweë-die-Beste.
Die Hebreërsskrywer open hier boonop ’n nuwe gesigspunt: Hy suggereer dat hoop ’n inhoud het waaraan ons nie sommer sou dink nie. Hy sê: Terwyl julle hoopvol vorentoe kyk, kyk ook mooi na mekaar.
Kan dit dan wees? Om aan hoop vas te hou, is tegelyk ook om aan mekaar vas te hou?
Dit het tog sin. Wie is beter geselskap vir mekaar as hulle wat dieselfde hoop deel? Wie anders kwalifiseer as mekaar se vashouers as hulle wat vir mekaar kan beduie: Kyk! Sien jy wat ek sien? Dit is Hy! Kom, neem my hand!
Dit alles beteken dat hoop baie eienskappe het, waarvan “versorging” een is, en “tuiste skep” ’n ander. Dis dus geen wonder nie dat die skrywer hierdie gedeelte afsluit met ’n hartstogtelike oproep dat gelowiges tog nie van die onderlinge byeenkomste moet wegbly nie.
Dit word so maklik ’n gewoonte om jou af te sonder, om jou doelbewus eenkant te hou – en dan verbaas dit jou dat jy jou so maklik en so gou op moedverloor se vlakte bevind.
Dit beteken dus ook dat wanhoop maklik “troosteloosheid” heet. Of “eensaamheid”. En dit gee aan gelowiges die vername opdrag om in hul bywoning van die gemeente se samekomste nie allereers vir hul eie siel te sorg nie, maar om hul medegelowiges s’n te versorg.
Here, U leer ons om mekaar vas te hou. Ek sukkel soms. Wys my hoe.
Barend Vos