Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

O toggie, die antichriste …

Lees 1 Johannes 2:18-28.

Hy is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie (v 22).

Johannes roer hier ’n sakie aan wat deur die eeue ’n klomp gelowiges op vele maniere op hol gehad het. Hy sê naamlik aan Christene dat hulle op die uitkyk moet wees vir die antichriste.

Behoede ons! roep die gelowiges uit en hardloop dat die klippers spat. Beangs kyk hulle rond om te sien: Wie is hy, hierdie ellendeling? Hoe lyk hy, hoeveel sesse is daar in sy naam, hoeveel boosheid in sy bedoelings? Waar kan ons vir hierdie monster wegkruip?

Dit is presies wat hierdie briefskrywer nié bedoel het nie. Hy gee bloot inligting – nugter, saaklik, feitelik. Hy sê: Daar is baie van hulle soort. Hulle was aanvanklik deel van ons, maar toe loop hulle weg. Hulle glo nie in Christus nie. Hulle probeer julle omhaal om ook júl geloof in Hom prys te gee.

Dit is al. Dit is geen bangmaakstorie hierdie nie. Dit vertel wel dat jy nie ver hoef te soek om die antichriste op te spoor nie. Jy hoef nie wêreldleiers van wie jy nie hou nie as “die antichris” te bestempel nie. Of ideologieë wat jou bedreig laat voel, só uit te skel nie.

Jy hoef ook nie vir hulle bang te wees nie, behalwe as jy hul opportunisme vir soetkoek wil opeet. Die antichriste in Johannes se boekie is bloot dit wat daardie beskrywende naamwoord van hulle sê – anti-Christus.

Dit laat gelowiges natuurlik met dié knaende vraag: Hoor jy die Gees wat in jou bly wanneer Hy oor Christus getuig? Doen jy wat Hy jou aansê om te doen? Kortom: Leef jy pro-Christus?

Ek skrik nie vir bangmaakstories nie, Here. Ek luister na wat die Gees vir die gemeente en vir my sê.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.