Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Voorlopig

Lees Hebreërs 2:1-9.

Nou sien ons nog nie … Maar ons sien Jesus … (v 8-9).

Nee, sê die Hebreërsskrywer en haal uit Psalm 8 aan, ons verstaan nie so lekker hoe dit werk dat God alles aan die mens onderwerp het nie. Trouens, ons verstaan daar bitter min van. Dit is so duidelik soos daglig dat dinge buite ons beheer is. Daar is niks van hierdie sogenaamde onderwerping sigbaar nie.

Daarom, sê die skrywer, moet ons maar glo wat ons gehoor het. Vasklou aan die belofte. Sorg dra dat ons nie afstand doen van die hoop op “eendag” nie. Eendag wanneer ons wel sal verstaan, eendag wanneer alles sigbaar en begrypbaar sal wees.

Tot dan het ons net vir Jesus. Kyk maar na Hom, sê die skrywer. Dit is al wat help. Voorlopig is dit – Hy, hierdie Jesus – ons enigste hoop op begrip. As ons nie verstaan nie, kyk na Hom. As ons niks rondom ons sien wat op die skepping se onderworpenheid dui nie, hou Hom in die oog.

Die skrywer sou dit aanstons weer sê toe hy gelowiges aanmoedig om vol te hou en uit te hou in die maraton wat ons “die lewe” noem: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb 12:3).

Tog vreemd, nie waar nie? Kan daar nie vir ons ’n kragtiger voorbeeld wees nie? ’n Held om na op te sien? Moet ons tevrede wees met Een wat gely het, wat “verdra het”? (Heb 12:3).

Is dit, is dít my Koning? Hý?

Klaarblyklik, ja. Daar is niemand anders nie. Sy voete het wel gebloei, maar hulle was nie van klei nie. Sy hande was vasgenael, nie in ’n vuis gebal nie. Hy was volledig onderworpe, sodat ons uiteindelik kan triomfeer.

Ek het net vir U, Here Jesus. U is genoeg. Tot eendag, én daarna.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.