Lees Lukas 22:1-13.
Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek (v 7).
“Jesus se dood word beplan,” lui die opskrif bo hierdie kort verhaal in die Afrikaanse Bybel (1983-vertaling). Die leser word dus uit die staanspoor gewaarsku oor wat kom.
Daar word genoem dat die fees van die ongesuurde brood naby was. Dit was een van die heiligste geleenthede op die Joodse kalender – en die godsdiensleiers beplan ’n moord. Rabbi Jesus gee sy dissipels uitvoerige opdragte oor hoe om die paasmaaltyd voor te berei, terwyl die priesterhoofde en skrifgeleerdes met een van die dissipels ooreenkom om Hom te verraai.
Fees en verraad. Die breek van ongesuurde brood, en die breek van ’n onskuldige liggaam. Die bloed van ’n lam, en die bloed van die Lam. Só verloop dié parallelle verhale, sonder dat die leiers-met-die-agenda dit naastenby begryp. Hulle het bloot korttermyn politieke gewin in gedagte. Vir die gelowiges deur die daaropvolgende eeue was daar ’n ewige wins.
Dit is hierdie gelowiges en hul nasate wat steeds eet en drink en só die Lam gedenk. Met hul maaltyd vier hulle die fees van ’n oorwinning veel groter as dié oor die Egiptiese farao. Dié ete is ’n samekoms wat hulle steeds hegter aan mekaar bind: Aan die feestafel noem hulle mekaar “suster” en “broer” en hulle praat met liefde en ontsag oor hul oudste Broer, die Eersteling uit die dood.
Ja-nee, die ironie loop dik in hierdie storie; die ewigheidswaarheid nog dikker. Daar sou dus nóg ’n paaslam geslag word – ’n Paaslam – en sy bloed sou aan die kosyne van die hart gesmeer word. Godsdiens sou nooit weer dieselfde wees nie: hierdie Leier beplan lewe, nie dood nie.
Here Jesus, die Fees waar U gebreek word, bou vir my ’n lewe. Ek loof U, Lam van God!
Barend Vos