Lees Psalm 118:1-2, 19-29.
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie (v 29).
Dit is ’n loflied hierdie, een met ’n wonderlike refrein wat só lui: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Dit is nodig dat ons mekaar daaraan herinner. Dat ons seker maak dat ons mekaar hieroor goed verstaan: God is goed, Hy is grensloos goed. Ja, juis in hierdie week moet ons dit oor en oor aan mekaar sê. Dit is immers die groot lydensweek wat voor ons lê: Eerskomende Vrydag is ’n slegte Vrydag …
Hierdie lofpsalm vind sy jubeling in die Here se kragtige dade, Hy wat iéts uit niets maak. Hy wat die weggegooides optel en hulle sy eiendom maak. Hy maak hulle wat afgekeur is, die belangrikstes. ’n Steen des aanstoots word ’n hoeksteen. Dit is wat Hy doen, dit is hoe Hy werk. Dit is hoe sy goedheid lyk.
As ons dit maar in hierdie week-met-sy-baie-dinge sal onthou … Ag, en as ons dit tog vir mekaar maklik sal maak om dit te glo. Want ons besit mos daardie ellendige vermoë om af te breek en hard te slaan, op afskuwelike wyse te skop en te trap. Dit is tog óns wat mense afskryf en weggooi, wat geringskattend met die Here se eiendom omgaan. Wat juis in die kerk, van alle plekke, sukkel om bly te wees, om mense te aanvaar, om die Here-van-die-kerk te loof met méér as ons goedkoop woorde en oppervlakkige wysies.
Hoe sal dit wees, wonder ek, as ons hierdie groot week wanneer ons die takke wuif (v 27) en die moeilike pad aandurf, mekaar ook skromeloos in die oë sal kyk wanneer ons ons hosannas (Matt 21:8-9) uitroep?
Ons, ek en my medegelowiges, sal dan sê: “Ons loof U, Here, want U is goed!”
Barend Vos