Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Oorvloed

Lees Psalm 36:5-11.

U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed (v 8-9).

God se goedheid kom in strome na ons toe. Hiervan is die Bybelskrywers oortuig, en spesifiek hierdie psalmdigter beskryf dit met helder beelde. Die Here se liefde reik tot in die wolke, juig hy, en sy regspraak is geanker in die see se dieptes. Hy gee die lig waarin ons lewe.

Dit is boonop nie vreemd dat sulke God-is-goed-uitroepe juis in swaar tye opklink nie. Kyk mooi: Aan weerskante van hierdie uitgesproke oortuiging staan Boosheid met gebalde vuiste. Daar is geen ander adres om na toe te vlug as die Here s’n nie. In sy huis is daar veiligheid – en méér: oorvloed. Daar is dit niks minder nie as strome goedheid wat die wegkruiper se dors les.

Ons ken dit steeds: Dit is net die Here se sigbare, hoorbare teenwoordigheid wat sy kinders troos. Daarom bid ons dikwels: Here, praat met my! Here, wýs my …

Alte dikwels vind ons die verhoring van hierdie soort gebed in die kerk, die plek wat gelowiges van alle tye as “die Here se huis” ken. Dit is hier waar hulle oor die strome van seën sing en aan die genade onbeskryflik groot herinner word.

Dit is in die kerk waar bangerige mense gehelp word om te onthou dat hulle nie alleen is nie. Dat hulle nie uitgelewer word aan magte en kragte wat hulle wil meesleur nie. In hierdie plek word daar ’n gemeenskaplike verbondenheid gevier en word ander se troosvolle teenwoordigheid beleef.

As gelowiges dan ’n groot lydensweek moet meemaak, is daar geen geskikter plek as juis hierdie een nie. Hier waar bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Hier by die plek van oorvloed.

Ek en my susters en broers is u eiendom, Here. U is ons skuiling. Dankie!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.