Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Verwonder

Lees Psalm 71:1-14.

Ek is vir baie ’n wonder, want U is my veilige toevlug (v 7).

’n Mens kry baie sulke mense: die getroue gelowiges, dié wat van altyd af van God se goedheid kan getuig. Hulle wat hul vertellings van die lewe se uitdagings én alledaagshede gereeld met ’n frase soos dié aanvul: “Die Here is vir my goed …”

Dat dit die Here is wat vir hulle sorg en wat hulle versorg, is vir hulle geen kwessie nie. Hulle ken nie “toevallig” en “per ongeluk” nie. Hulle gebruik nie uitdrukkings soos “soos dit nou maar moes wees” nie. Hulle lewe doodeenvoudig onder die Here se sorg en hulle eet uit sy hand. Punt.

Hoe kosbaar is sulke mense nie, en hoeveel seën bring hulle nie aan sukkelaars en twyfelaars nie. Soos dié psalmdigter tereg sê: Baie mense verwonder hulle aan hom. En ons kan byvoeg: Selfs méér mense put inspirasie uit so ’n lewe, so ’n menswees van die wieg tot die graf.

Ons hoor wel ook sy kreet dat die Here hom ekstra genadig moet wees “nou dat ek oud geword het” (v 9). Hy is maar té bewus van sy afnemende kragte en die dienooreenkomstige toename in die gevoel van bedreiging. Maar ook dit is tog een van die geloof se vernaamste slagspreuke: Ek is swak, Here; wees U sterk vir my. In ’n week waarin ons gereeld op ons broosheid stuit en met ons onbegrip gekonfronteer word, is dit goed om te weet dat geloof in God nie kampioene oplewer nie; bloot diegene wat weet hoe afhanklik hulle van Hom is. Nie podiumstaners nie, geen medaljewenners nie; bloot hulle wat weet waar hul krag vandaan kom.

Ja, dit is inderdaad om jou aan te verwonder, en om voor dankie te sê.

Liewe Here, my oë rek as ek telkens agterkom hoe groot U is, hoe goed …

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.