Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gou! Nou!

Lees Psalm 70.

Here, kom my tog gou te hulp! … moet tog nie talm nie! (v 2, 6).

Ses haastige verse. Benoud kreet die digter sy vrese uit. Herhaaldelik, asof dit sy grootste vrees is dat die Here hom nie hoor nie, sê hy God moet góú help. Hy moet tog nie talm nie.

Ons verstaan iets hiervan. As ons swaarkry, wil ons gehelp word.

Gou. Nou. Die Here moet hoor en Hy moet Hom haas.

Ons is nie goed met wag nie. Ons lees die geliefde Psalm 130 en laat ons troos met die goedheid van God vir hulle wat uit die dieptes roep. Ons luister egter teësinnig hoe daardie roeper sê hy sal wag, “meer as wat die wagte op die môre wag” (Ps 130:6).

Ons maak onsself wys dat ons nie kán wag nie. Ons nood is ons prioriteit, en ons verstaan nie as dit nie ook God s’n is nie.

Wanneer ander mense – medegelowiges, welmenende susters en broers – ons wil troos en dinge sê soos “die Here het sy tyd” en “sy weë is nie ons weë nie”, wil ons skreeu. Ons wil uitroep: Nee! Ek moet gehelp word – gou! Nou!

Dit is reg so. Om aan te dring op God se spoedige verhoring van ons gebede is in orde. Ons kan maar sy aandag vir ons opeis. Ons mág soos kinders begin rondtrippel en sê: Gou! Nie later nie – nou! Dit sal ons wel baat om te onthou wat God se antwoord was toe sy eerste Kind gesoebat het dat die lydensbeker by Hom moet verbygaan (Mark 14:36). En hoe hierdie Goddelike reaksie sedertdien al sy ander kinders se noodroepe beïnvloed het.

Liewe Vader, U het vir Jesus “nee!” gesê, sodat ons herhaaldelik met “ja!” geseën word. Seën ons ook met die genade om op u goeie tyd te wag.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.