Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vergoeding

Lees Psalm 116:1-2, 12-19.

Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? (v 12).

Ná al die noodroepe – “smeekgebede”, noem hierdie psalmskrywer dit (v 1) – wat die Here gehoor en waarop Hy gereageer het, het dit tyd geword om dankie te sê.

Die skrywer se retoriese vraag hieroor is bloot dit: retories. Wat hom betref, is dit ’n uitgemaakte saak. ’n Drankoffer sal dit wees (v 13), ’n dankoffer (v 17); die betaal van sy geloftes, voor almal (v 14, 18), en in die voorhowe van die Here se huis (v 19). Dit is ’n geringe prys om te betaal; hy het immers sy lewe aan die Here te danke.

Dit is verfrissend om hierdie ou psalm nou te lees: Hoe min hoor gelowiges, veral ook uit hul eie mond, die nadruklike versugting om God vir verhoorde gebede te dank.

En Hom boonop só uitvoerig te wil bedank, voor al wat leef en beef en luister en toekyk, almal wat dalk agter die hand sal fluister: Het jy gehoor wat met hóm gebeur het?

Ja-nee, dankbaarheid is dikwels ’n private saak. Ek (en my Here) in my klein hoekie …

Maar hierdie mens het in die loop van sy krisistye iets deurslaggewend geleer: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie” (v 15). Hy het in hierdie swaar tyd agtergekom hoe kosbaar hy vir die Here is. Hy weet nou wie hy voor God is en tot watter uiterstes Hy sal gaan om sy kinders te beskerm.

Daarom sy oorvloedige dankbaarheid, en daarom maak dit nie saak wie toekyk nie. Hy sal uitroep: Kom kyk maar, julle almal! Kýk, ek is die lewende bewys van hoeveel God se kinders vir Hom werd is.

Ek sal opstaan, Here, en ek sal voor almal sê: God is oneindig goed vir my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.