Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Godroepers

Lees Psalm 22.

My God, my God, waarom het U my verlaat …? (v 2).

Hy val sommer met die deur in die huis, dié psalmskrywer: Hy wil weet waarom God hom gelos het. Waarom Hy so onbereikbaar is. Hoekom kry hy Hom dan nie in die hande as hy Hom nodig het nie? Hy roep en roep – soggens, saans, snags – maar daar kom nie ’n geluid uit God se mond nie. Geen teken dat Hy hoor nie.

Is Hy daar waar hy Hom soek? Ís Hy hoegenaamd …?

Dan sou Hy tog gesien het hoe die mense spot, hoe hulle sê: As daar ’n god vir hom is, laat dié hom red. Hoe hulle hom uitlag, vir hom tong uitsteek en smaal: Siestog, die ou godroepertjie …

Van altyd af roep mense na hul gode, en van altyd af word hulle daaroor gespot. Elia het gehoor hoe die Baälprofete hul god soebat, en toe spot hy hulle luidkeels toe dit blyk dat dié god nie ore het nie, of dat hy sy ore toedruk. Of dat hy bloot ’n illusie is, ’n groteske stuk selfbedrog (1 Kon 18:26-27).

Jesus het na sy God geroep, in dieselfde hartseer woorde as dié van die Godroeper in Psalm 22. Toe dink die omstanders Hy roep na oorlede Elia. En verwonder hulle seker aan dié bygeloof. Verbeel jou: om in jou sterwensnood ’n ou, dooie profeet se hulp in te roep … (Mark 15:34-36).

Wie sal weet hoekom God soms talm? Waarom dit vir mense wat herhaaldelik na Hom roep, voel asof hulle aan ’n geslote deur hamer? Ten minste weet almal teen dié tyd hoekom Jesus se Godroepe op dowe Goddelike ore geval het.

Ons Vader, U wóú Hom nie hoor nie. Sodat ons, u ander seuns en dogters, kan weet dat U nooit u ore vir ons toedruk nie. Nooit nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.