Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Verstaan jy?

Lees Handelinge 10:34-43.

“Hierdie Jesus is Here van almal” (v 36).

Petrus sê hier hy verstaan nou eers hoe groot God se familie is. Dit is nadat die Here hom iets soos ’n groot doek laat sien het wat uit die hemel neergelaat word, en hom ’n stem laat hoor het wat sê hy moet die diere in daardie hemelse mandjie slag en eet. Waarop hy, hierdie Joodse man, mos geantwoord het dat hy nog nooit in sy lewe iets onreins geëet het nie. Waarop die stem – die Stém! – aan hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (Hand 10:15). Eers nóú verstaan hy, sê Petrus. En nadat ’n mens jou kop geskud het oor sulke trae begrip, verwonder jy jou opnuut oor die helder manier waarop hierdie Petrus sedertdien die evangelie aan dese en gene verkondig. Jood ofte nie, almal hoor duidelik dat Jesus hulle almal se Here is.

Hoe dan anders? Jesus het dan almal by Hom laat welkom voel. Hy het saam met enigeen geëet. Vra maar die “tollenaars en sondaars” van Lukas 15:1-2. Vra Saggeus (Luk 19:5). Vra die vooraanstaande Fariseër (Luk 14:1).

Vra tog ook daardie volgelinge saam met wie Jesus ná sy opstanding geëet en gedrink het (v 41). Dit is hulle wat jou sal sê Jesus is inderdaad hul almal se Here, ten spyte van hul soms gure geskiedenis en dikwels bedenklike keuses.

En jy met die lang storie wat nie altyd ewe mooi is nie? Jy met die moedswilligheid en stiksienigheid en doodgewone onbetroubaarheid? Verstaan jy dat Hy die Here-sonder-voorwaardes is, die Here-van-almal?

Op hierdie Paassondag, gelowiges se vernaamste feesdag, is dít jou lewensvraag: Begryp jý dit?

Ek verstaan min van U, Here. Ek weet wel dat U my liefhet. Dit is vir my genoeg.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.