Lees 1 Korintiërs 5:6-8.
Verwyder dan die ou suurdeeg … (v 7).
“Ons paaslam is immers geslag …” herinner Paulus sy lesers. Dit het nou tyd geword vir die fees.
Daar is wel nog een ou sakie, sê Paulus: Julle moet weet dit is ’n nuwe begin. Daar is nie plek vir die ou dinge nie; hul tyd is verby. Hierdie fees is ’n heel nuwe fees. Dus: Weg met die ou suurdeeg! Die brood moet nuut wees.
Alles beeldspraak, natuurlik. Dit gedenk ’n vroeër tyd, ’n paasfees met sy wortels in Egipte, die plek van slawerny. Maar nou is die kettings finaal afgegooi. Die hande is los, die voete kan dans. Die nuwe brood word gebreek.
Die lewe ná Paassondag is inderdaad ’n feestelike lewe – en dit hou eenvoudig aan en aan. Tot in ewigheid, om die waarheid te sê. Ja, ná die dood is daar éérs lewe, en dit is hierdie blye tyding wat so uitbundig gevier word.
Kom, gelowiges! Kom sit aan en eet, lig die beker en drink, kom sing en dans en wees vrolik – die Paaslam is geslag!
Reken tog net af met die ou brood. Dit het mos die manier om alles te befoeter; dit versuur alles wat soet geword het. Daarom: Smyt weg! Dit is nie meer goed vir jou nie. Raak. Dadelik. Daarvan. Ontslae.
Breek dan net nuwe brood, dié wat na reinheid en waarheid smaak (v 8). En wees verseker: As jy eers daarvan geproe het, sal jy met niks anders tevrede wees nie. Jy sal nie sommer weer na minderwaardige, onwaardige, spyse kyk nie. Jy sal nie eens daaraan wil ruik nie.
Jy weet nou van beter en daarom is jy net met die beste tevrede. Kyk, die tafel is reeds gedek. Kom, sit aan met dankgesange! Die Paaslam is vir jou geslag.
U voer my, Here, met die nuwe brood. My beker loop oor!
Barend Vos