Lees Psalm 118:1-2, 14-24.
Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees (v 24).
Nogmaals hierdie jubellied: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” (v 1).
Dit is die moeite werd om te weet dat daar ’n besliste rede is waarom dié digter so uitbundig sing: Daar was ’n tyd toe hy wou moed opgee, maar toe kom die Here se dag, die dag van sy ingrype. En toe word alles anders, van toe af is alles nuut. Halleluja!
Dit is eenvoudig ’n lewensfeit wat gelowiges baie stof tot dankbaarheid gee: Hulle kyk terug op ’n bepaalde tyd in hul lewe – en dan sien hulle God se ingryping raak. Dalk sê hulle dan: “Dit is die dag wat die Here …”
En heel maklik, dalk juis in die Pase, word so iets ’n wonderlike werklikheid: Wanneer jy terugkyk, sien jy God raak. Tussen al die doene en late, die keuses en die kruise, die versuim en die verraad, sien jy Hom.
Só raak jy daaraan gewoond om sy hand in aksie te sien. Is dit telkens vir jou ’n heerlike avontuur om sy vingerafdrukke in jou geskiedenis na te speur.
Soms is die Goddelike bemoeienis van so ’n aard dat die dag en datum in jou hart gegraveer word. Dat jy dit nooit sal vergeet nie. Dat jy dit vers en kapittel voor jou vriende kan aanhaal: “Dít is die dag wat die Here …”
Daar is ook gelowiges – bevoorregtes, begenadigdes – wat sukkel met dag-en-datum-aanwysings. In hul geval is daar te veel sulke dae en tye. Vir hulle is elke dag die Here se dag. Hulle sê graag, omdat hulle dit vas glo: Aan sy liefde is daar geen ure nie.
Ek wil U ook so maklik sien, Here. Wys my, oortuig my. Leer my tog sing!
Barend Vos